top of page

Bruid blog 1 (van 3): Die groot vraag is (uiteindelik) gevra… en jy het gesê, JA!

Updated: Sep 17, 2022

Eerstens… baie, baie geluk! Daar is werklik min dinge in hierdie lewe so mooi soos om liefde te celebrate!


Tweedens… hier kom julle eerste ordentlike sak sout as ‘n couple. Ek wil jou bemoedig deur te sê: wanneer dit moeilik raak, onthou al daai dinge waaroor jy as dogtertjie gedroom het vir jou troudag.


Luister na ander se raad, maar bepaal jou eie koers. Daar is niks so sleg soos om terug te kyk op ‘n spesiale geleentheid soos hierdie, en spyt te wees jy het nie jou eie hart gevolg nie.


Sodra jul verlowing se hype verby is, gaan jy oorval word met voorstelle vanuit alle oorde. Mamma en aanstaande skoon-mamma gaan die gastelys wil begin bespreek. Jou vriendinne gaan Pinterest vrot deurkyk en al hul idees met jou deel, en moenie groot-goot-goot Ouma Susan se pêrels vergeet nie.


Ek weet jy voel verplig om elkeen op die een-of-ander manier tegemoet te kom. Stop! Haal asem... smile and wave... of gil en spring (watter een ook-al die beste gaan werk). Herinner jouself dat hierdie JOU dag is... joune dame... en “nee” is werklik okay. Almal sal later oor hulle issues kom. Wyn werk ook goed as geen van die voorafgenoemde die job doen nie.


Derdens… jou beplanning begin letterlik die oomblik wat die celebrations rondom jul verlowing begin afwater het, en beplanning is alles. As jy reg beplan, gaan jy op jou gemak wees met jou troudag en daar is niks meer waardevol as ‘n kalm gemoed op so (oor die algemene) stresvolle dag nie.


Oor al die jare wat ek die voorreg gehad het om deel te wees van soveel spesiale dames se troues, het ek ʼn hele paar waardevolle lesse, tips en truuks geleer. Koop tyd uit en lees asseblief deur al drie dele van hierdie blog. Ek belowe jou – dit gaan jou baie tyd, geld en moeite spaar.


So… ready… set… go!

 

Jou eerste (en vinnigste besluit) moet wees wie jou grimering en hare op die dag doen. Klink dit effe ridiculous?


Dink hieroor:

Dit is werklik nogal moeilik om ‘n bruid 2 weke voor haar groot dag vir die eerste keer te ontmoet (geensins onmoontlik nie, net moeiliker). Die ultimate goal vir jou look op jou troudag moet JY, amplified, wees. Nie die Cosmo-voorblad meisie nie. Jy! Dit is dus wys om jou haar- en grimeer kunstenaar ‘n tydjie te gun om jou as mens en jou persoonlikheid te leer ken, maar (belangrik) ook jou vel / hare / naels ens.


By CHILLA\V wil ons verkieslik weet hoe jou vel reageer met verskillende behandelinge, watter kombinasie produkte die beste vir jou werk, hoe lank jou naels gewoonlik hou ens. Maar meer belangrik, ons wil JOU leer ken, sodat ons aanbevelings aan jou kan maak na gelang van jou persoonlikheid, jou menswees.


‘n Haar- en grimeer kunstenaar is nie veronderstel om jou in ‘n rigting te forseer gebaseer op hul eie persoonlikheid en voorkeure nie, tensy daar baie goeie rede is dat hul verskil van jou keuses. Ons is veronderstel om eerstens jou droom te verwesenlik of daarop te verbeter. Besides, jy droom nou al van hierdie dag vandat jy ʼn dogtertjie is.


Dit sal ook vir jou lekker wees om gedurende jou beautiful dag, omring te wees met mense bekend aan jou, ek wil sover gaan om te sê susters (en/of broers) in skoonheid. Dit sal help om allerhande awkwardness te vermy en jou so kalm en gemaklik as moontlik te laat voel.

Dus, liewe vriendin, as jy nie reeds ‘n haar- en skoonheid “person” het nie, nou is n bitter goeie tyd om hiermee te laat waai en so verhouding te bou. Al is CHILLA\V nie jou keuse nie – maak asseblief net (vir jou eie beswil) hierdie besluit so gou moontlik.


‘n Goeie plek om te begin is by hul portefeulje. Maak daarna ‘n algemene afspraak met hierdie persoon / instansie en besluit of jy gemaklik is met hierdie persoon / instansie. Al jou mooi-maak voorbereiding (en tyd wat dit neem) gaan jy saam met hierdie persoon spandeer. So, choose wisely.


Pre- en post- sorg is ʼn top prioriteit by CHILLA\V. Ons motto vir jou spesiale dag is eenvoudig: “you are going to fly high on your dream day, so check your landing gear”. Net soos met ʼn vliegtuig is die “pre-flight check” net so belangrik soos die “landing-gear”. Ons fokus intensief daarop om jou vel, naels, hande en voete deeglik voor te berei, maar ook om voorafgenoemde nie in bom-skok te laat na jou troudag nie.

Na hierdie spesiale dag (as jy so bevoorreg is), is dit wittebrood tyd en ek belowe jou, hierdie is ʼn tyd waarin jou lewensmaat jou van kop-tot-tone gaan admireer... so... jy moet tip-top lyk en voel, ten minste vir die duur van jou wittebrood!


Hoe lank jul besluit om te wag vir jul groot dag na jul verlowing, sal bepaal hoe vinnig jy met 'n doelgerigte vel regime moet begin (voorafgenoemde geld vir hare ook / maar omdat CHILLA\V nie op hare fokus nie, gaan ons vir eers hierdie kategorie oorlaat aan die spesialiste wat dit beter verstaan).


Dit is van uiterse belang om jou vel voor te berei vir jou groot dag. By CHILLA\V is dit ons doel om voornemende bruide so gou nodig/moontlik met ‘n bestuurbare en bekostigbare oplossing te help.


Op hierdie punt. Jy gaan ongelukkig jou bankrekening skud met jou groot dag, dus, so belangrik soos dit is om jou vel voortydig voor te berei, is dit werklik nie nodig om te hoop jy wen die Lotto om daarvoor te betaal nie.

Koop local, asseblief? Dit is vreeslik grênd om produkte te gebruik wat “oorsee” vervaardig word, maar ek is eerlik as ek sê jy betaal ʼn fortuin vir iets wat jy lokaal vir die helfte vir die prys kan aankoop / gebruik en, wat eerlikwaar net so goed is.

Ek wil sover gaan om te sê dat skoonheidsprodukte wat lokaal vervaardig word, ons Suid-Afrikaanse omgewingsfaktore (soos klimaat, lugkwaliteit en UV-faktor) deeglik in berekening bring. Ons almal weet tog die Swede drink uit fonteine en breathe glitter – so wat weet hul tog nou regtig van ʼn propperse droë Vrystaat somer, huh? Verwys na my blog inskrywing: Velsorg, vir meer inligting oor die produkte wat CHILLA\V aanbeveel.


Wat velsorg betref, het ons regtig reeds teen hierdie tyd geleer wat werk, veral vir bruide. Ons het ook “tailor-made” produk-pakkette om jou ʼn hupstoot in die regte rigting te gee.

Sodra julle ʼn datum vasgestel het, is die ander onmiddellike elemente: boek ‘n venue en fotograaf! Jou fotograaf gaan omtrent die hele tyd in jou gesig wees. Oorweeg asseblief iemand waarmee jy en jou voornemende lewensgenoot gemaklik oor die weg gaan kan kom en julself kan wees. Foto’s (en DVD) is ook al herinneringe wat jy van die dag gaan oorhê.


Deurdink asseblief jou besluit in hierdie kategorie baie deeglik en doen jou navorsing! Kies iemand wat lag en gemaklik is. Glo my, daar is niks so sleg soos ʼn ongeduldige, demanding fotograaf nie. ʼn Gemaklike fotograaf laat jou gemaklik voel en dit wys in jou foto’s! As dit vir jou moontlik is, boek die ekstra uur wat hul addisioneel vra: daardie laaste paar foto’s is gewoonlik waar al die fun dinge by jou seremonie gebeur.


By CHILLA\V is ons werklik passievol oor ons bruide,

en ons sal dit love om deel te wees van jou dag.


En kan enige een van julle asseblief Jo Black se “Jy’s die vrou wat ek liefhet” gebruik om die dansvloer te open. @joblack, waar was jy met hierdie song toe ek getrou het!? (emoji gesiggie met die super sad traan).


 

HIER VOLG 'N PAAR WENKE WAT HANDIG KAN WEES TYDENS JOU BEPLANNING:


Tensy jy ʼn vreeslike groot familie het, of Harry Oppenheimer se agter-agter kliendogter, ditch die 150 sterk gastelys. Dit is werklik meer beheerbaar en bekostigbaar om die gastelys kleiner te hou en eerder langer met wittebrood te gaan. Vertrou my net op hierdie een, asseblief. Dit is ontsettend moeilik om jou aand te geniet EN ʼn geselsie aan te knoop met ʼn 150 gaste. Onthou, elkeen verwag ʼn oomblik saam met julle... gaan doen die wiskunde as jy my nie glo nie, 3 minute x 75 couples (dis nou man en vrou / ou en meisie van jou 150 gaste) = 3,¾ ure. Wat bly oor vir jou en jou wederhelfte om die aand te geniet?

Moet asseblief nie kalmeermiddels letterlik OP jou troudag BEGIN gebruik nie. Ons almal weet dit is ʼn stresvolle tyd, so, as jy weet jy gaan swaar cope met alles, gaan sien jou GP ten minste ʼn maand voor jou troudag en begin vroeër met enige kalmeer- of “minder sweet” medikasie. As jy nie seker is hoe hierdie/enige medikasie met jou reageer nie – jou troudag is verseker nie ʼn plek om dit uit te vind nie!


Perspirex® is jou beste vriend. Jy kry dit by enige apteek te koop in ʼn sterk, en minder sterk weergawe. Hierdie produk seël tydelik (± 2 weke) die sweetgaatjies onder jou arms. Jy gaan dus min of glad nie sweet onder jou arms nie. Gebruik soos aanbeveel, maar nie te na aan jou onder-arm waks nie.


"The golden glow” (Tanning): oooh, daai perfekte bruin lyf.


Jy het heelwat opsies wat voorafgenoemde betref. My gunsteling (en eie voorkeur) is son bed. As jy dit reg doen, is dit veilig(er), egalig en dit hou langer. Onthou asseblief, geen oplossing anders as spray-tan en self-tan is 100% veilig nie... ʼn disclaimer oomblik, ha-ha-ha.

Spray-tan is pragtig vir jou dag, maar dit moet glad nie te na aan jou dag aangespuit word nie, anders mag dit dalk afsmeer op jou onderklere en rok. As jy dus jou rok moet terug-gee, is dit ʼn nagmerrie om daai een aan die designer te verduidelik.


Dit moet ook nie te vroeg gedoen word nie, anders mag daar dele wees wat al verlig het, of witter kolle op plekke waar jy dit regtig nie nodig het nie. Maak asseblief ook seker (as jy spray-tan verkies) dat jy iemand boek wat dit 100% perfek doen.

Ek is ongelukkig nie ʼn fan van neussproeie (???), inspuitings en/of plakkers wat jou pigment (medisinaal) affekteer/verander nie. As jy hierdie roete gaan, doen dit groot asseblief met uiterse versigtigheid en moenie jou tan sessies te na aan mekaar boek nie!!


Neem liefs die langer roete, doen dit reg en veilig, en jy gaan beautiful lyk op jou dag en jou hele wittebrood lank.


As jy gebore is met ʼn geel gelaat, hoort son bed jou goed te diens en jou tan pragtig te lyk. As jy met ʼn pienk gelaat bedeel is, sal jy moontlik son bed sessies, asook spray-tan moet oorweeg, indien jy effe donkerder as normaal wil voorkom.

Ek skryf jou allermins nie voor nie, maar moet eerder nie jou tan oordoen nie. ʼn Skakering net-net donkerder as “sunkissed” is waarvoor jy moet mik, daardie regte-egte golden-glow.


Daar is heelwat goeie self-tan produkte beskikbaar, maar ek sal glad nie aanbeveel dat jy hierdie opsie kies vir jou groot dag nie. Daar is heeltemal te veel wat hier kan verkeerd gaan. ʼn Opvolg self-tan vir jou wittebrood mag jou dalk goed diens, maar selfs in hierdie opsig is daar heelparty voorskrifte en voorsorgmaatreëls wat jy moet nakom


Wanneer jy jou aantrek venue boek, maak asseblief seker daar is ʼn lugversorger en goeie ventilasie in die kamer of vertrek. Goeie lig gaan jou ook baie help tydens die aantrek, hare en grimering. Probeer ook om nie té vêr van jou trou venue aan te trek nie. Dit sal baie help as jy dalk ʼn bietjie laat hardloop om dan nie te moet haas kerk of venue toe nie. Hierdie is veral belangrik vir jou dame, wat ʼn cabriolet vir ʼn trou-kar gekies het! Ag jinne tog... dink aan jou hare in hierdie geval asseblief!

Moenie te eksoties gaan met jou confetti nie. Hoe kleiner daardie boggers is, hoe moeiliker om dit uit jou hare te kry na die strooi. Dit gaan oral in by plekkies wat skaaf, so dit gaan jou die res van jou seremonie pla. Hou eerder by goed soos vere (ek weet, ek weet) of roosblare of streamers, even bubbles gaan beter werk, trust me.

Maak seker iemand (wat jy daarmee vertrou) kyk dat jul, asook die hare en die grimering van jul gevolg en familie steeds in plek is voor die familie foto’s geneem word. Op hierdie punt, maak asseblief seker die familie het hulle volle uitrustings aan tydens die foto’s en al die mans se hemp moue is afgerol. As hul dasse aan het, maak seker die dasse is behoorlik in plek en die boonste knoop vas, en om hemelsnaam – geen sonbrille op enige koppe tydens die foto’s nie.


Gee vir almal om jou pepermente om vir jou te hou (en gee vlos vir jou strooimeisies). Nie kougom nie, asseblief. ʼn Bruid wat kougom kou is als behalwe grasieus. Moet asseblief ook nou nie ʼn groot en taai pipperment vir hierdie doel gebruik nie. Kry liewers iets klein en koubaar. As jy iets eet, vlos. ʼn Pietersielie is pragtig op ʼn bord, maar nie tussen jou tande nie.


As jy buite trou, maak tog seker jy en jou gaste is in die koelte. Die SA son bak jou binne 15 minute tot ʼn crisp. Vermy dit om die bruidegom en mans in jou gevolg aan te trek met ʼn onderbaadjie / baaitjie / das ens. Dit raak onsettend warm onder al daai klere.


ʼn Up-style vir buite trou is beter. Die weer is baie onvoorspelbaar en daar gaan vir jou niks so sleg wees soos hare in jou oë die heeltyd as die windjie opsteek nie. Dit gaan ook nie mooi lyk op jou bevestigingseremonie video as jou hare die heeltyd in jou gesig waai nie.

Moet asseblief onder geen omstandighede jou trou skoene vir die eerste keer dra op jou spesiale dag nie. Hierdie geld vir jou wederhelfte ook. Drie ure in die seremonie in gaan jy wens jy het nie meer voete nie, en dit bly seer tot halfpad deur jou wittebrood.

Belê vir jou eie beswil in ʼn ordentlike, duursame parfuum en moenie skaam wees om jouself deeglik daarmee te doop nie. Hou dit veral ook byderhand vir (net voor) die kous-band geleentheid. ʼn Verfrissende parfuum reukie is heelparty meer aantreklik as heeldag se benoude, senuweeagtige boude.

Onthou dat jy die hele tyd deur familie en vriende oorrompel word op so dag. Daar is baie drukkies en soentjies, so maak seker jy ruik jou beste, die hele tyd.


As jy ʼn bruidsmeisie is, is hierdie ʼn baie lekker persent om te gee. Dit kan duur raak, so klub-in as jul meer as een is... naas haar voornemende wederhelfte, ken jul die bruid die beste (dalkies net nog beter as haar voornemende wederhelfte), dus, as jy ʼn ander geur as haar normale koop – maak asseblief seker sy gaan daarvan hou.


Vra jou spysenier om vir jou ʼn pakkie op te maak van julle kos. Dit mag gebeur dat jul nie by eet uitkom nie en jy sal dankbaar wees vir daai kossie, 3 uur die volgende oggend. Dit is soms ook regtig moeilik om te eet as jou hele konstitusie omgedop is.


As julle ʼn troeteldiertjie het, boek liewer die dingetjie reeds 3 dae voor jou troue in by sy/haar oppasser. Dit help dat jy nie nodig het om te skarrel voor jul op wittebrood vertrek nie, en dit help ook dat die diertjie nie vir ure-en-ure in hierdie besige tyd alleen gelaat word nie.

Comentarios


bottom of page