...seriously woman, what were you thinking!?
Is dit dan ‘n nuwe roomys winkel?
NEE Susan! Daar staan dan “Beauty Factory”...
ek weet roomys is mooi van lekker maar rêrig...?
Welkom terug by my blog liewe leser!
As jy (en ek hoop jy het) my eerste blog post: "EK IS ANRIE..." gelees het, sal jy teen hierdie tyd weet wie ék is, en nou wil ek jou graag voorstel aan CHILLA VANILLA.
…oohh, en btw (en nee, dit is nie daai haatlike goed wat ons bo-op retail pryse moet betaal nie, dit – het ek nou die dag geleer – is “by the way”), ek dink ek hou nogal van die blog ding :-)
Waarvandaan CHILLA VANILLA?
Na 11 jaar van Vivacious was dit tyd vir vernuwing. Ek dink ‘n groot deel daarvan het te doen met die feit dat ek deur die eerste groot dinge in ‘n “mens” se lewe is, jy weet, eers 18 toe 21 toe verloof raak, trou en kind(ers) hê.
Na die tweeling se 2de verjaarsdag sien ek toe weer vir die eerste keer ‘n liggie in die donkerte skyn. Hulle is nou meer (bietjie, klein-klein bietjie meer) onafhangklik... Johan sien uiteindelik kans vir doeke ruil en kyk na altwee vir een aaneenlopende tydperk, en ek voel weer bietjie (klein-klein bietjie) mens en... cue die introspeksie.
Is dit nie die interessantste ding op aarde nie? Jy voel vir die eerste keer weer of jy kans sien vir opstaan in die oggend, na die trein-trap van kinders hê, en eerste ding wat jy doen nadat jy onthou dat jy lewe is... kyk of alles nog in proporsie is (natuurlik glad nie, maar nou ja), en jy neem stock van jou lewe. As ek hier 'n emoji kon sit, sou dit daai tannie'tjie wees met haar skouers opgetrek en handjies in die lug gegooi.
Die een plek waar ek voel ek beheer het, Vivacious, kry dit toe van alle kante; "dit is tyd vir nuwe vere suster!"
Ek gesels met Johan en wonder bo wonder stem hy onmiddelik in en vra nie weer ʼn Power Point presentation, pie-charts, grafieke én om daaroor te slaap (vir 3 maande) nie.
Dit het kort van die helfte van 2018 geneem om uiteindelik te kom by CHILLA VANILLA. Daar was soveel name, idees en konsepte dat dit eerlikwaar net te veel is om op te noem.
Op ʼn stadium het ek regtig gedink, HOEKOM tog!?
Nou net ʼn tweeling by loop gekry en hier baar ek sowaar weer een!?
.
Maar die engel aan my sy (Johan sê ek moet sê ander engel, want hy is dié engel), beeldskone Marjoli Coetzee van M'Co Designory, het met bitter baie geduld, passie, en flat-out awesomeness elke tree (soms treetjie) saam gegee.
Na vele pogings (wat eenvoudig net nie vat wou kry nie) het ek en Johan gesels en besluit, Chilla Vanilla kan maar net 'n verlenging van myself wees. Dit is tog logies en die enigste manier om sustainable te wees, en dit is hier waar ons uiteindelik vooruitgang begin maak het.
Ek wéét ek is Chilla Vanilla, want Marjoli het my uitgedaag op elke liewe voorstel, sy het my mentally ge-stretch totdat daar net pulp oor was. Van elke lyntjie en kolletjie, blokkie en sirkel, tot een van die belangrikste elemente, gevoel (en kleur).
Chilla Vanilla is nie net ʼn logo, kleure en vorms nie. Chilla Vanilla is ʼn brand.
Chilla Vanilla is nie wit orgidëes en stilettos nie – dit is baberton-daisies, wild, vibrant en kaalvoet. Dit is jou Ma se kombuis. Dit is die grond na ʼn donderbui, die reuk van die see op ʼn warm somersdag. Pannekoek in die winter en daai, kan-nie-genoeg-kry reuk van vanilla essence as iemand koek bak nie. Dit is die chocolate wat ek onder my truie in die kas wegsteek en skelm eet. Chilla Vanilla is skoonheid met BAIE hart. Chilla Vanilla is die strewe na uitstekende, persoonlike diens. Kwaliteit. Jy. Die jy met fabulous naels, flawless vel, baba-boutjie voete en soveel meer.
Elke vrou (en ek meen elke vrou) het ‘n hairdresser waarsonder hulle eenvoudig nie kan klaar kom nie. Daai een agter wie jy sal aantrek as sy verhuis.
CHILLA\V wil daardie persoon vir jou wees, in skoonheid (en alles wat daarmee gepaard gaan).
Jou... 'person'.
Johan gaan weer sê hierdie blog-post is te lank. So ek moet liefs briek aandraai.
Welkom by CHILLA VANILLA dame... kom kuier, toe?
Tot ons weer gesels, bly mooi!
Anrie
NS: Dankie Marjoli! Baie, baie DANKIE!
NNS: So, op hierdie stadium is CHILLA\V se "brand" effe groter as haar fisiese gestalte... ons werk daaraan.
NNNS: Oops ...die #hashtags
.
.
.
.
.
Comments