Ek loop vandag by die winkelsentrum in, en voel behoorlik hoe almal se weemoed deur die lug sny. Mense loer (slegs AS hul opkyk) deur hul maskers en ek sweer dit lyk behoorlik of almal snak na asem... letterlik en figuurlik.
Oral in die gange hang die swaar alkohol reuk van die aanhoudende hand sanitizers elke keer as jy ʼn winkel binne stap. Soos ek aanstap na die kettingwinkel word ek gekonfronteer met donker winkelvensters en toe deure. Daar is geen gelag wat (soos van tevore) van die restaurante se kant af weergalm nie. Daar is niemand wat net deur die winkels snuffel en net met die oë koop nie. Daar is geen reuk van vars gemaalde koffie in die lug nie.
My hart breek vir elke winkel- en restaurant eienaar wat al die afgelope vyf en ʼn half weke nie ʼn sent kon in nie, of dié in hulle diens.
Almal doen hul bes om nie té naby aan mekaar verby te stap nie. As jy en ʼn ander klant dalk aan dieselfde artikel belangstel op die rak, is daar eers ʼn verposing terwyl jul mekaar behoorlik opmeet om te vermy dat jy of sy nie dalk die ander se persoonlike spasie oortree deur té naby aan mekaar te staan en kyk na die handelsware voor jy dit van die rak afhaal nie. Almal lyk doelgerig en doen net wat hul moet, sodat hul nie moontlik verdink word om ʼn oorbodig ronddwaler te wees nie.
Ek probeer uitmaak of daar nie dalk hier en daar ʼn glimlag onder die maskers is nie, maar helaas... al wat ek sien is verbouereerde oë wat alles om hulle noukeurig monitor. Behoorlik asof almal somme maak en probeer bepaal of dit wat in hul mandjies lê werklik op hierdie stadium die geld werd is wat hulle gaan uitgee.
In die ry staan almal op hulle plakker... ʼn meter uitmekaar. Niemand gesels meer soos nét voor die “lock-down” toe almal geskarrel het om soveel moontlik in hul grocery kaste te kon prop nie. Toe jy en die wildvreemde persoon agter jou in die ry gestaan en spekuleer het oor wat vir ons voorlê nie, ʼn uitruil van onsekerhede (dog ʼn tikkie optimisme) dat ons President moontlik net die regte besluit geneem het in hierdie ongekende gebeurlikheid.
Dit voel vir my dat al wat oor is na die vyf en ʼn half weke is bleek, ongeruste, bekommerde gemoedere... behoorlik soos die eens indrukwekkende bome in die buurt wat hul weelderige groen blare begin afgooi het om plek te maak vir hul lewenslose winter takke.
Ek probeer myself troos dat ons almal in dieselfde boot is, terwyl ek vir die soveelste keer probeer om (dieper) asem in te trek deur die vrekkit masker op my gesig... maar ek weet eintlik dat dit nie heeltemal die waarheid is nie.
Die kassier sit agter ʼn perspex skerm, ons sukkel om mekaar te hoor deur ons maskers en die stuk plastiek wat ons verdeel.Sy wil nie my kaart neem nie, en verduidelik hoe ek te-werk moet gaan om die transaksie deur te sit.Uit die hoek van my oog, verneem ek dat die tannie links van my nie die kassier se instruksies verstaan nie.Ek sien hoe haar hand (sweterig in die plastiek handskoen wat sy aanhet) onseker oor die kaartmasjien rondbeweeg, en sy al hoe meer onthuts raak.Ek wil haar SO graag help, maar ek weet nie of sy gemaklik sal wees as ek langs haar inskuif nie
Op daardie stadium wou ek net in my motor kom sodat ek die masker kan af kry, en behoorlik asem haal. Ek kan nie eers onthou of ek die kassier behoorlik gegroet het nie.
Onderweg huis toe probeer ek almal se onnet sypaadjies en die middelmanne en sirkels miskyk – but it’s so in your face! “What the actual” dink ek by myself. “Is dit waarheen ons op pad is Here”, vra ek. “Is hierdie die eerste VOELBARE begin van die einde”?
Ek arriveer suutjies by die huis sodat die kinders eers nie agterkom ek is terug nie, en haas om die kruideniersware ontsmet te kry... dit vat vir ewig om elke hoekie en voutjie raak te vee. Dog, soos ek elke item uit die sak haal, herinner ek myself dat ek ontsettend dankbaar is oor elke item wat ek kon aankoop om my gesin gevoed en gesond te hou.
Asseblief verstaan my reg... ek is nie sonder hoop nie en verseker nie ondankbaar nie, maar SJOE... ek is bitter gedaan vir hierdie hele “gedoente”.
Ek voel dit aan my lyf. Ek sien dit in my kinders se oë. Hul (die kinders) smeek ons al om net één keer uit die motor te klim en saam in die winkel te gaan. Ek weet nie meer hoe om “nee” te sê sonder om die teleurstelling op hul gesigte te verwerk nie.
Ek besef so akuut dat ons (steeds) ongelooflik baie het om voor dankbaar te wees. Ek weet dat massas en massas mense, gesinne en families in soveel méér haaglike omstandighede is, soveel moeiliker, soveel meer gekompliseerd, soveel swaarder, soveel meer “moedverlore”, soveel donkerder... EK WEET!
Ek besef dat ek ook seker nie eens van die helfte van die swaarkry en ellende weet nie. Maar as ek aan hierdie dinge dink, maak dit my net NOG meer mismoedig!
Ons bedryf is geklas onder vlak 1; ek sélf weet nie eers mooi wat die toekoms vir elkeen van die vriendinne en hul staf in ons bedryf inhou nie. Dit knaag aan my menswees... regdeur die onsekere en “positiewe” glimlag wat ek op my gesig plak, in ʼn poging om nie buite te lyk soos ek (eintlik) binne voel nie. Niemand weet wanneer ons vlak 1 hoort te bereik nie, niemand weet of dit nog binne enige van ons kliënt-vriendinne se vermoë sal wees om hulself te KAN kom bederf nie.
Die pynlike waarheid is dat self ék sekerlik eerder hoop om brood op die tafel te hê as (killer) french tips, of ʼn tip-top balayage.
Wat die onregverdige partydige politiek, sameswerings, gerugte en oordonderende, aanhoudende nuus rondom hierdie hele shebang betref, wil ek nie eers begin deel nie... dit sal my sweerlik dryf om aan die kliniese alkohol “swabs” in die salon te begin suig.
Dit voel letterlik vir my of ek Petrus van ouds is, uit die skuit op die onstuimige waters... sou ek my oë vir net ʼn oomblik van Jesus afhaal, sink ek sekerlik! Dank die Here dat even al gebeur dit ook, het ek die versekering dat Hy sy hand (soos vir Petrus) sal uitsteek en my sal uitlig uit die donker waters. Al wéét ek dit ook sonder twyfel, is dit nie te sê ek voel nie hoe die waters teen my vasslaan en my verstik nie. Dit is nie te sê ek besef nie ek staan op water, wat my enige oomblik kan verswelg nie. Ek voel dit alles... en miskien is dit hoekom ek Petrus se oomblik op die waters van Galilea nou beter verstaan.
Of dié van die Pappa in Markus 9:14-27 wat tydens die genesing van sy seun met trane uitgeroep het na Jesus “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!”
Ek besef dat dit sowaar nie so maklik is om midde die storm, terwyl jou menslike oë die aardse dinge waarneem, en jou menslike lyf die gevolge voel, en jou menslike brein nie die berekeninge kan verwerk nie, onwrikbaar te bly staan nie.
Hoewel, die weergawe van die Pappa in Markus 9 eindig nie met vers 27 nie. Dit eindig met vers 29, wat lees: “En Hy sê vir hulle: Hierdie geslag kan deur niks anders uitgaan as deur gebed en vas nie”.
Dus, liefste leser, terwyl jy reeds op jou knieë gedwing is deur omstandighede, onregverdigheid, onpartydigheid, vrees en onsekerheid, het jy niks om te verloor om uit te roep, “J-E-S-U-S” nie.
Ek laat jou met een van my gunsteling Spurgeon aanhalings: “I have learned to kiss the wave that slams me into the Rock of Ages”!
Ek het ʼn vaste vertroue dat hierdie ding ook eventually tot ʼn einde sal kom somehow... en ek sien vreeslik uit na daardie dag!
Tot dan... kyk mooi na jouself en jou geliefdes!
Al my tonne, en tonne, en tonne #chillove!
Anrie
Kommentare