top of page

Velsorg, deel 1 (van 2) Velsorgprodukte ... moet dit 'n arm en 'n been kos?

Updated: Aug 24, 2021

Nee, dit hoef nie! As jy die regte besluite maak hoort dit jou arm en been mooier te laat lyk – nie laat afval nie :-)

Hoekom is velsorgprodukte so duur?

Moenie dink dat jy die enigste persoon is wat hierdie vraag al ʼn paar keer gevra het as jy na jou budget vir die maand kyk, of optel hoeveel jy nóú weer deur die maand by Dischem® spandeer het nie.

Jy hoef verseker nie vir Johan (dis nou my man, as hierdie die eerste van my blogs is wat jy lees) ʼn horror-movie te wys, of van ʼn hoogte aan ʼn rek afstoot om sy bene lam te maak nie... sê eenvoudig net vir hom “ek moet Dischem® toe, ek kort ʼn paar goedjies”.


 

Op bogenoemde vraag, sal velprodukvervaardigers se algemene ondertoon wees: dit het meestal te doen met navorsingsfooie, laboratorium bedryfskostes en dan... die kwaliteit van die bestanddele in hul produkte en waarvandaan dit verkry word, hoe suiwer dit is, hoe hulle dit vervolmaak het om die maksimum potency daaruit te harness (daar is nie Afrikaanse woorde wat dit beter uitdruk nie).

Alhoewel ek glad nie twyfel dat hierdie tipe kostes enorm is nie, laat hul gewoonlik na om die ander groot rede aan kostes te noem... wat prime-time televisie advertensies kos (en dink jy ene Jane Fonda en Julianne Moor se fooie en royalties is ʼn klein bedraggie)?


Ai, en wat reklame in die velsorg bedryf betref, kan ek jou die res van die dag besig hou. Ons almal wéét nie een enkele foto in ʼn tydskrif of op ʼn billboard is ʼn werklike verteenwoordiging van wat daardie gesigsroom wat adverteer word, regtig kan doen nie. Tog kry hulle dit reg om jou ʼn tweede of derde maal daarna te laat kyk, en as jy daai potjie in Dischem® raakloop – stop jy in jou spore.

Wat van daai super-mooi botteltjies... die verpakking oor die algemeen? Dit is amper of jy dit in jou badkamer wil uitstal om seker te maak Susan sien dit raak... 24k pure gold powder serums... kom nou.

My gunsteling is gewoonlik daardie papperige plastiek pilletjie (“capsule”) goedjies waaruit jy die olietjies druk. Kyk ou maatjie, het jy al die tannies gesien wat daai olietjies uitdruk... die manier waarop hul, hul gesigte trek na gelang van die fors wat hulle uitoefen om seker te maak elke druppel beland op hul oë? Daai gesig-trek is genoeg om nog twee ekstra plooie by te forseer.

Bogenoemde net ʼn opmerking: daar is ʼn rede vir die goedjies. Die konsentraat van die produk of serum is gewoonlik he-e-e-elwat hoër, en die pilletjies verhoed oksidasie voordat dit gebruik word. In sommige gevalle - byvoorbeeld - is die inhoud daarvan vitamine A in intensiewe konsentraat en dit sal skadelik wees om meer aan jou gesig op ʼn slag aan te wend, as wat die kapsule bevat. Dus, dit het ʼn plek in die velsorg bedryf.

Dit help regtig ook nie dat jou velsorgprodukte jou kredietkaart uit-max nie. Nie net verhoed dit ons kliënt-vriendinne om na hulle beautiful vel te kyk omdat hulle dit eenvoudig nie kan bekostig nie, dit maak dat jy jou so vrek stres oor die paaiement terugbetalings op daai kaart, dat al daardie duur roompies in elk geval nie die stres-lyne ooit sal wegkry nie!

Dit help ook nie om ʼn roompie vir bo die neus, ʼn roompie vir onder die neus, ʼn roompie vir die nek en een vir agter die ore te gebruik nie. Jy kan sekerlik nie ʼn uur lank net room staan smeer nie?

Dit is waar dat verskillende dele van die gesig se vel anders “funksioneer”, maar werklik nie tot die punt dat jy jou gesig in 15 sones moet indeel en elke deel tot op die sentimeter behandel nie. Kan jy jou imagine?

By CHILLA\V het ons oor die jare geleer, hou dit bekostigbaar, haalbaar, doelgerig en eenvoudig. Punt. Vier woorde is eintlik te veel. Kom ons maak dit net, haalbaar en doelgerig. Punt.

Ons het dus ʼn rits (en ek meen werklik ʼn rits) maatskappye genader vir toets monsters (wat 'n aaklige woord). Ons het hulle katalogusse met data en bestanddele sorgvuldig deurgewerk, asook die heel belangrikste – hul pryse. Vadertjie-tog, en het ons hierdie een deurgetrap. By the way – jy kry nie sommer net samples nie – dit is omtrent ʼn mission om net die produk uit te toets. Ons moes baie van hierdie toets samples self aankoop.

In the interest of full disclosure: sommige van hierdie maatskappye het skrikwekkende “opening order” bedrae. M.a.w. jy koop eers ʼn klienhuisie vol produkte en ʼn “display” aan, waarna jy dan hul produkte mag bemark en verkoop.

Die duurste “opening order” was kort van R100 000-00. Ja, jy het reg gelees.

Die maatskappye begin gewoonlik om jou eers voor te berei vir die skok wat volg deur te sê wat die herverkoop waarde is (dit is nou julle dames se sakke wat geskud moet word), sou jy elke produk in die “opening order” verkoop kry... en dan die bom.

Pluk ek ʼn lat vir myself?

Aahhh, dus Mev. Chilla Vanilla – hierdie is die rede hoekom jy nie hierdie “high-end” produkte kan bemark nie?

Ha-ha-ha. Nee Susan, jy mis die punt. Hoe duurder dit vir my is om jou grênd produk te bemark, hoe duurder moet my kliënt-vriendinne daarvoor betaal, en dan is ons terug by onbekostigbaar en onbehaalbaar. ...en Susan, jou produk is so-waar-as-vet nie die enigste effektiewe, doelgerigte produk beskikbaar nie! Sit!

Die interessantste was seker dat, hoe mooier die botteltjies, hoe grênder die boksies, hoe fancier die pamfletjies, hoe meer “high-end” en hoe lekker die roompies ruik, hoe duurder. Geen grappies – feite!

Die bemarkers gebruik die woord “high-end”, want dit is ʼn mooi manier om te sê, vreeslik duur en amper onbekostigbaar... en... jy mag jouself maar “high-popelaai” hou as jy die produk gebruik.

Die oorsese produkte is oor die algemeen duurder, aangesien dit in Dollar / Euro en Pond aangekoop, en dan ingevoer word (verdere pligte en invoerbelasting), asook koerier kostes.

Massa-produksie en daarmee saam, massa-aankope (m.a.w. die algemene velsorg produkte wat jy by ʼn handelswinkel aankoop, soos byvoorbeeld Pick n Pay®), is soms ook effentjies goedkoper.

Onthou jy TRESemmé®? Jy kon eers die produk nét by salonne aanskaf en dit was werklik net die tannies met geld wat dit kon gebruik, daarna het hul fokus verskuif na die van ʼn meer hoofstroom-verbruiker roete. ʼn Deel hiervan het te doen gehad met die verkoop van die maatskappy, maar dit is nie die enigste rede nie.

Sien, dit is nie dat die produk skielik heelwat goedkoper is nie, net meer “bekombaar” en kondisionering van die verbruiker sorg dat jy dink, noudat die produk op Pick n Pay® se rakke staan, moet dit moes goedkoper wees?

Een stukkie waarheid: as jy meer verkoop, verhoog jou winsgrens (bloot in getal verkope) en dan is dit moontlik om om die prys met sê, R3 te verlaag.

Een probleem met “hoofstroom” produkte is dat dit die doelgerigtheid van die produk ongelukkig tot ʼn mate veralgemeen, sodat jou fokus-poel wyer kan wees.

Ag, soms moet ek eerlik sê, blote hype is ʼn bitter groot faktor. Hoe beter produkte bemark word, hoe meer nodig het jy dit. Cause... you’re worth it™... nie waar nie?

Hier is my opinie: ek reken die bemarkers van velsorgprodukte het op ʼn dag (lank, lank gelede) dié vraag gevra: wat maak die skonergeslag bang as dit by hul voorkoms kom?

Ek dink die antwoord was redelik vanselfsprekend: grys hare, plooie, vel, gewig ens., en hierop het hulle besluit om te kapitaliseer: "mevrou, ja jy... ons gaan jou bang maak vir oud word. As ons jou klaar bang gemaak het, gaan ons vir jou ʼn oplossing gee."

Ons gaan arme Jane Fonda gebruik (wat hierdie jaar 82 jaar oud word). Ons gaan haar bietjie opdoen, onnodige velletjies weg sny, haar stukkend make-up en dan gaan ons haar voor ʼn sagte lens, met sagte beligting sit en vrouens laat sleg voel omdat hulle nie soos sy lyk op 82 nie. Verkope in hierdie ouderdom fokus-groep het ge-skyrocket.

Hoekom is ons gekondisioneer om net te celebrate as jy 10 jaar jonger lyk as jou werklike ouderdom? Hoekom het ons so bitter bang geword vir ouderdom en oud word oor die algemeen? Jy weet natuurlik, baie van hoe jy verouder (nie ʼn mooi woord nie, verouder) het te doen met jou genetiese samestelling, dit waarmee jy geskape is. Amper soos, kan jy mooi sing of nie? As jy nie met hierdie talent gebore is nie, gaan jy net eenvoudig nooit soos Miemie Coetzer klink nie.

Dus, jy kan trek en sny en smeer en drink, maar soms is dit ongelukkig net wat dit is. Dit is nie te sê jy hoef nie na jou vel te kyk nie. ʼn Gesonde vel is altyd voordelig, met of sonder plooie.

Alle “grappies” op ʼn stokkie: wat is nou eintlik belangrik wanneer dit kom by velsorg? Op hierdie vraag moet ons liewer vra, hoekom moet ons juis so intensief fokus op velsorg? Jy het dan nou-net gesê ek kan my genetika blameer en chill!!?

Want, my liewe vriendin, ons lewensstyle (baie belangrike woord), veroorsaak in sekere gevalle dat ons ouer voorkom as wat ons werklik is, of hoe ons gene noodwendig saamgestel is. Ek wil nie soos die media grammefoon plaat klink nie, maar dit is ongelukkig waar, ons stres, ons dieet is afgewater, ons drink heeltemal te veel kafeïne en suiker, ons oefen nie genoeg nie en ons kry verseker nie genoeg water in ons lywe nie.

Hieroor voel ons dan skuldig, en hoop ʼn R900-00 roompie en R1 000-00 se vitamines gaan alles weer reg ruk. Ons verval in die maalkolk van nog meer pilletjies, nog meer roompies... nog ʼn duisend hiervoor, nog ʼn duisend daarvoor...

Let op: ek sê “ons”. Ek staan nie hier op die kantlyn en skree nie, want ek maak myself heeltemal te gereeld skuldig aan dieselfde dinge. Hoe anders dink jy het ek tot nuwe insigte gekom...

Ek is ook nie ʼn “do it all natural” tipe mens nie. Ek is ook nie ʼn “conspiracy theory” nut nie. Ek gesels met jou uit ʼn plek van selfontdekking en ondervinding.

Kyk, ek is dankbaar ons het tegnologiese vooruitgang in gesondheid en skoonheid. Ek moet eerlik sê, dit klink of dit maar rof was in die donker-eeue toe mense gesterf het aan ʼn stukkende plek. Ek is ook bitter dankbaar vroue staan nie meer opmasjiene wat hul vet weg vryf, soos in die 1940’s nie (sien “link” onder)! Sou dit nou nie net plain awesome gewees het nie! Ha-ha-ha!

CHILLA\V staan vir balans. "To be beautifully balanced"

Jinne maar daai was ʼn vreeslik lang aanloop na waaroor ek eintlik wil gesels; maar dit is vir my belangrik dat jy verstaan hoekom ek sê, wat ek sê. Waarvandaan ek kom wanneer ek oor skoonheid en vrouwees gesels.

In deel 2 van hierdie blog, gesels ons CHILLA\V se voorstelle vir die tipe produkte wat jou vel se basiese vereistes sal diens. Ons gesels oor ʼn produkreeks wat vir ons sin maak en hoekom, en maak ons voorstel vir jou velsorg roetine.

Dankie dat jy saam gelees het dame!


Bly mooi!


Anrie


Image credit: Ruth Mutch / Project Ability


Gym in die 1940’s: https://youtu.be/QeWaXf8_5Us


205 views0 comments
bottom of page